Kosallergieë: Jo-Mari Janse van Rensburg
My naam is Jo-Mari Janse van Rensburg en hierdie is my storie van hoe ek besef het dat ek verskeie kosallergieë het en die reuse impak wat dit op my daaglikse lewe het.
Ek sukkel al vir jare met my allergieë. Vandat ek klein is was ek dikwels siek, en dokters en pediaters behandel my al van baba-tyd af vir allergiese asma. Ek is ook gereeld met kroep gediagnoseer, en het selfs in graad 5 met kroep en asma in die hospitaal beland. Die verpleeg personeel was verbaas omdat kroep gewoonlik by kinders onder die ouderdom van 5 jaar voorkom.
Ek moes altyd met ñ asma pompie rondloop en later in my lewe moes ek selfs ñ “nebulizer” saam met my ronddra. Ek is kort-kort met kortisoon behandel wat my moeg, naar en lighoofdig laat voel het. Op die ouderdom van 11 het ‘n dokter vir die eerste keer voedsel-allergie toetse laat doen, en dit is toe ons uitvind van my verskeie voedsel-allergië (wat koring en ander gluten produkte, soja en grondboontjies
insluit) bo en behalwe my allergieë vir stowwe wat ek inasem. Ek het dit vir ñ jaar lank uitgesny en stelselmatig weer koring ens. begin eet toe ek hoërskool en koshuis toe is. Dit was gerieflik om net al die kos wat op die koshuis spyskaart is te eet.
Ek was weer gelukkig en gesond tot en met graad 9 (15 jaar). Ek het depressief begin raak en ek het maand na maand gewig opgetel, maak nie saak hoe min ek geëet het nie. Dit was ook in daardie tyd dat ek siek geword het en siek gebly het. Ek kon nie sport doen nie want ek was heeltyd in die bed. Ek is vir maande vir verkoue en sinus behandel. In my graad 11 jaar was my ‘siekte-toestand’ op sy ergste: ek was
oorgewig ek was konstant kwaad en siek.
Ons nuwe huisdokter het nadat ek hom my hele mediese geskiedenis van baba af vertel het, besluit dat ons weer volledige allergie toetse moet doen. Die toets uitslae het almal geskok. ‘n Gemiddelde totale allergie telling van 35 word reeds as hoog gesien. My totale allergie telling is 217. Behandeling vir allergiese toestande sluit velskrape en die kweek van ‘n immuun behandeling spesifiek vir jou lyf in,
maar omdat ek vir soveel stowwe allergies is het ons besluit om eerder net die kos wat ek eet te monitor.
Ek het ñ nuwe dieët begin volg (vermy ALLE gluten, soja en grondboontjies). Ek het amper 5kg in slegs 2 maande verloor en selfs my geestesgesondheid het verbeter. Na amper ‘n jaar en ‘n half kan ek met trots sê dat ek maande laas enige siekte, asemhalings of verkoue simptome gehad. Ek is werklik gesond, trots en gemaklik in my eie liggaam.
Alle kos is nie sleg nie, maar sommige kos is sleg vir individue. Let op hoe jou liggaam reageer op kos wat jy eet. Sonder om allergie toetse te doen het ek ook agtergekom dat ek nie pynappel, avokado of waatlemoen kan eet nie. Die reaksie op hierdie vrugte verskil hemelsbreed van my liggaam se reaksie op gluten. Ek voel dadelik hoe my keel toetrek wanneer ek sekere vrugte eet, maar ek voel nie dadelik siek wanneer ek koring of soja eet nie. My liggaam word stelselmatig ‘siek’ wanneer ek koring en
sojaprodukte inneem.
Gesond en reg eet vir mý lyf het my selfvertroue gegee in hoe ek lyk en voel.
Groete
Jo-Mari Janse van Rensburg
