Kleine Wonders Ekspo - Sprekers
Dr. Anke Brand
Huidiglik leef ons in ‘n era wat gekenmerk word deur die alomteenwoordigheid van die internet en ‘n era wat oorheers word deur die media. Van ons alledaagse betrokkenheid by sosiale media tot kriminele gedrag op forums is die internet ‘n virtuele ruimte vol onwerklikhede, isolasie, seksualisering, anonimiteit, en ongebreidelde selfobsessie – die perfekte teelaarde vir nuwe, ongekende vorme van boosheid. Verder het die tempo waarteen ons data gebruik ‘n negatiewe impak op die manier waarop ons dink, werk en leef.
Boonop bied die internet nuwe en kommerwekkende geleenthede vir onsedelikheid, waarvan baie skokkend en ekstreem is. Ons oogmerk is om die korrupte aard van die internet en die morele verwarring wat dit veroorsaak met groot insig en duidelikheid te verduidelik. Dit sal ‘n belangrike rol speel in die huidige debat oor hoe om die voordele van die internet te balanseer teen die risiko’s wat dit vir ons almal inhou.
Besprekingspunte sluit in die verskeie aspekte van hierdie digitale dilemma waarin ons onsself bevind, hoe dit ons beinvloed op alle vlakke van ons lewe en wat die rigtingwysers is om deur ‘n digital orrheersende wêreld te navigeer.
Dr. Chris van Niekerk
Behoefte vir Liefde ondersoek die betekenis van ware liefde, soos God die Vader dit bestem het. Die Griekse woord wat met “Liefde” vertaal word is “Agapé:. Hierdie woord is ’n werkwoord en verwys nie na ’n emosie nie, maar na optrede. Yeshua sê juis in Johannes 14:15 dat as ons Hom liefhet, ons Sy gebooie sal bewaar. Dus word liefde deur ons optrede van gehoorsaamheid geopenbaar. Net so, moet ons ook teenoor mekaar optree, sodat ons liefde kan ervaar deur dit wat ons hoor, sien en voel. Wanneer hierdie liefde ontbreek, veroorsaak dit emosionele spanning wat kan lei tot geestelike, emosionele en fisiese ongesteldhede. Dit beïnvloed ons belewenis van eksterne ervarings, gemoedstoestand en ons eie optrede wat ook ons identiteit, karakter en persoonlikheid beïnvloed. Herstel kan plaasvind wanneer ons Vader se beginsels in Sy Woord, in ons lewens begin toepas. Sodoende kan ons verander word deur die vernuwing van ons gemoed, soos Paulus tereg daarna verwys. Die doel van die boek is om bewustheid te kweek van hoe elke persoon se identiteit en karakter herstel kan word soos Vader dit bepaal het om te wees.



Jacolene du Plooy
Jacolene du Plooy is ‘n spelterapeut en kinderboekskrywer van Pretoria.
Die volgende kinderboeke het uit haar pen verskyn:
Karimpel en Kadot (2020)
Crumple and Crumbs (2022)
Stinkie en Grootpoot (2022)
Lola die lieflike Lama (2023)
Jacolene se passie is om ouers en kinders te bemagtig met die vaardighede om emosioneel gesond en sosiaal bekwaam te wees.
Sy sien uit daarna om die onvervangbare waarde van “speel” met ouers, onderwysers en versorgers te deel.
Speel is noodsaaklik vir kinders in vandag se wêreld, aangesien dit kreatiwiteit, probleemoplossingsvaardighede en emosionele intelligensie bevorder, wat hulle help om ‘n toenemend komplekse en voortdurend veranderende omgewing te navigeer. Deur spel ontwikkel kinders kritiese sosiale vaardighede, leer om stres en angs te bestuur en veerkragtigheid te bou, wat noodsaaklik is vir sukses in die moderne lewe. Deur spel te prioritiseer, kan ouers en versorgers kinders die gereedskap gee wat hulle nodig het om te floreer in ‘n wêreld wat innovasie, aanpasbaarheid en emosionele welstand aanmoedig.
Dr. Louise Stoker
Wanneer jou kind die week by die huis wil bly, omdat “My familie” die klastema is.
Wanneer ‘n mens vandag vir ‘n groep kinders vra om ‘n stamboom te teken, kry jy die interessantste prentjies van struike met allerhande vertakkings… Hoekom? Want al doen ons ons bes om vir hulle gelukkige kinderdae te gee, leef ons in ‘n gebroke wêreld. Dit beteken egter nie dat ons moet moed opgee nie. Inteendeel. Ons moet leer om dit reg te hanteer en vir ons kinders die nodige vaardighede aan te leer om te floreer.
Dit is gevaarlik om te aanvaar dat iemand op ‘n bepaalde manier gaan optree omdat daar ‘n sekere stigma (positief of negatief) aan hulle omstandighede kleef. Wat ons eerder kan doen, is om te kyk hoe ons mekaar kan bystaan om oulike kinders groot te maak, sodat hulle ook die lewe vir mekaar makliker kan maak.
Om daarmee te help, kan ons ‘n paar algemene terme hersien. ‘n Ouer wat sy/haar kinders alleen grootmaak, is bv. nie ‘n “enkel-ouer” nie, maar ‘n “dubbel-ouer”, want hierdie persoon doen twee mense se werk. Sogenaamde “gebroke gesinne”, is soms minder gebroke as die wat heel lyk van buite, en ‘n “probleem-kind” se probleem lê dikwels op ‘n ander plek as by die kind.
Deur ‘n paar basiese beginsels te verstaan en toe te pas, te weet hoe die relevante prosesse werk en die regte mense se kontakbesonderhede te hê, kan die meeste uitdagings relatief vinnig uitgesorteer word en kan jou kind met selfvertroue hulle familie-struik vir die klas verduidelik.
Michael Schoeman
Michael Schoeman is ‘n professionele atleet. Hy is betrokke by sy vader se praktyk en is tans besig met studies in genetika. Michael verstaan die belangrikheid van ‘n gesonde dieet en leefstyl. Sport kan ‘n belangrike “coping-meganisme” wees, maar dit moet altyd op ‘n gesonde manier nagejaag word. Michael beklemtoon ook die noodsaaklike rol van oefening in kinders se kognitiewe en fisiese ontwikkeling, emosionele regulasie, en sosiale vaardighede. Hy glo dat vroeë betrokkenheid by gesonde fisiese aktiwiteit langdurige welstand bevorder.
Dr. Stefan Schoeman
Dr. Stefan Schoeman bespreek DNA se rol in kinder ontwikkeling en programering.
Mariëtte Van Eeden
Mariette van Eeden voltooi haar BA en HOD-studies gedurende 1988 aan die universiteit van Pretoria.
Sy het ook verdere studies aangepak en die Baccalaureus Educationis-graad (hons) in 1994 voltooi. Sy verkry ook die Education Management in Early Childhood Development, met lof gedurende 2018/2029 te UNISA.
Sy is vir ‘n geruime tyd betrokke in die Vroeë Kinderontwikkelingsektor waar sy bestuur, organiseer en leiding neem t.o.v. werkswinkels en seminare wat aangebied word.
Sy speel ‘n beduidende en leidende rol as “hands on” VKO-hoof, onderwyser en opvoedkundige spesialis en sterk leier wat al haar aandag, tyd, energie en entoesiasme aanwend om ‘n merkbare en blywende verskil te maak deur waarde toe te voeg d.m.v. werkswinkels.
Sy tree op as Fasiliteerder, Konsultant en Aanbieder op verskeie platvorms en organiseer waar sy haar kennis van die groter VKO ontwikkelingsprentjie oordra op ‘n praktiese, werkbare wyse tot voordeel van die VKO-sektor as geheel.
Mev. Mariette van Eeden deel haar kennis deur deel te vorm van paneelbesprekings waar die klein-kind en die “klein-kind-ontwikkelingssentrums” as fokuspunte vir gesonde wisselwerking tussen die skool, ouerhuis en kind manifesteer.
